Wie is ons
Met die opening van Universitas-Wes kleuterskool, droom ons daarvan om ʼn veilige, liefdevolle ruimte te skep waar kinders saam met hul gesinne gekoester word as geskenke van God. Kinders kan hier op ‘n speel-speel manier leer, groei en hul volle potensiaal bereik. By Universitas-Wes Kleuterskool streef ons om vir kinders soveel meer as sorg te gee. Ons is trots op ons unieke, omgee en vriendelike kultuur wat gebaseer is op Christelike waardes. Ons gee jou kind die vlerke om te droom, maar verskaf 'n sagte omgee hand om rigting en struktuur te gee. Kinders en hul ouer(s) word verwelkom in 'n dinamiese en ondersteunende kleuterskool waar ons werklik omgee vir die uniekheid en behoeftes van jou kind.
Hoe het Universitas-Wes Kleuterskool ontstaan?
Universitas-Wes Kleuterskool is gebore uit die Rooikerk se voortdurende uitkyk vir maniere waarop hul die gemeenskap kan dien. Die gemeente se Luisterspan – ʼn span lidmate wat saam vra waar die Here aan die werk is en waarheen die Here met ons op pad is – het die afgelope tyd van die volgende bewus geraak:
Dat die Here ons op ʼn baie spesifieke plek geplaas het, nl. Die hoek van De Bruyn- en Van Schalkwykstraat.
Dat daar baie jonger mense met kinders in die gemeenskap is en dat ons geroep is om onder andere dié jong ouers en kinders te bedien.
Dat die Here ons op hierdie besige hoek wil gebruik om – nie net die gemeente nie – maar die breër gemeenskap te dien.
Die kleuterskool vorm deel van die gemeente se breër koninkryksvisie, waarin ons daarna strewe om op diepgaande maniere mense in hul gesinne en binne die wyer gemeenskap, met God en met mekaar te verenig.
Dienste
Ons dienste maak ons uniek anders
Sorg vanaf 3 maande tot 5 jaar
Klein klasse met opgeleide personeel gereed om om te sien na jou kind.
Gebalanseerde spyskaarte
Saamgestel deur dieetkundiges, om optimale funksionering en groei van jou kind te verseker.
Opgeleide personeel
Ons personeel is nie net opgelei in die beste sorg en noodhulp nie, maar gee om vir jou kind se ontwikkeling en drome.